Acta Patristica et Byzantina

To
Home Page
To
"Acta"


KULTURELE EN TEOLOGIESE LYNE AS DIE FONDAMENT
VAN DIE VROEGSTE CHRISTENDOM

Acta Patristica et Byzantina17(1):272-294

W. Pretorius & C. Landman1
(Universiteit van Suid-Afrika)

    Abstract

    Cultural and theological lines as the foundation of earliest Christianity
    This article deals with the different cultural and theological lines that have developed within Judaism from the Babylonian exile till the time of Jesus. The focus is on the ongoing influence exercised by the culture and theology of these different lines on earliest Christianity. The history of these lines is traced back to the Babylonian exile. The two lines that prove to be most influential are the Babylonian and Hellenistic lines that showed a preference for Hebrew and Greek culture/theology respectively. This article shows how these lines interacted with one another and brought about divisions within Judaism. Out of these struggles the Christendom emerged. Although earliest Christianity was influenced by both these groups, this article will argue that a major influence on Christianity was through the Henochitic Essenes, a group that developed within the Babylonian line, alongside with the Qumranic Essenes.

1
1.1

Inleiding
Doel en metode
Die doel van die artikel is om na die grondlegging van die vroegste Christendom te kyk vanuit die kulturele en teologiese lyne wat binne die Judaïsme ontwikkel het, vanaf die Babiloniese ballingskap in die sesde eeu vC tot met Jesus en sy eerste- en tweedegeslag volgelinge. In ’n neutedop word daar aangevoer dat, met die Babiloniese ballingskap, daar twee lyne binne die Jodedom ontstaan het, die Babiloniese lyn wat die ortodokse Judaïsme verteenwoordig het, en die Egiptiese lyn wat ontstaan het uit die Jode wat na Egipte gevlug het. Laasgenoemde het later in die Hellenistiese lyn ontwikkel. Die Babiloniese lyn het na die terugkeer uit ballingskap uiteengeval in die Hasmonitiese lyn, aan die een kant, wat uit die Fariseërs en Sadduseërs bestaan het, beheer oor die tempel in Jerusalem gehad het en sterk op die Mosaïese wette gesteun het . Aan die ander kant was daar die Henogitiese lyn wat weer sterk apokalipties was en waarbinne die Qumranitiese Esseners en die Henogitiese Esseners onderskei kan word. Die artikel voer aan dat die vroegste Christendom veral deur laasgenoemde sterk beïnvloed is.

Wat metode betref, steun die artikel hoofsaaklik op sekondêre bronne, wat beoordeel en geselekteer is op grond van interne, waarskynlike argumentvoering.

Die artikel wil veral aantoon dat die vroegste Christendom nie deur ’n Judaïsme beïnvloed is wat kultureel of teologies enkelvoudig of eenvoudig was nie, maar deur ’n Judaïsme waarbinne verskillende kulturele en teologiese lyne intern met mekaar in konflik was.

1.2 Agtergrond
Die Christendom van die eerste en vroeg tweede eeu het nie uit die niet ontstaan in ’n geïsoleerde milieu nie, maar uit ’n ineengewikkelde stryd binne die Judaïsme wat reeds vir eeue gewoed het. Die Christendom het hierdie teologiese en kulturele lyne as fondament oorgeërf waarop hulle voortgebou het as een van die vele rolspelers en bouers in die Judaïstiese konflik. Hierdie fondament van teologiese en kulturele lyne strek so ver terug as die Babiloniese ballingskap van die 6de eeu vC.

2. Die verdeling van die Egiptiese en Babiloniese lyne binne
die Judaïsme tydens die Babiloniese ballingskap Jerusalem

2.1 Babiloniese lyn tydens die ballingskap(pe)
Die Babiloniese koning, Nebukadnesar II, het in 605 vC opgetrek teen Egipte en in die proses ook Palestina verower, waar koning Jojagin aan hom oorgegee het. Hierdie was die eerste van drie geleenthede waartydens ballinge weggevoer is na Babilon. Tydens die derde geleentheid in 586 v.C. is die tempel in Jerusalem verwoes.2 Dit was hierdie wegvoerings wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Egiptiese en Babiloniese lyne wat uiteindelik ’n belangrike rol sou speel in die fondament waaruit die Christendom gegroei het.

Die wegvoerings het telkens gefokus op die leiersgemeenskap van Jerusalem, naamlik die koninklikes, die leëraanvoerders, die adellikes en die priesters. ’n Groot gedeelte van die leiersgemeenskap is weggevoer na Babilon toe, waar hulle in afsonderlike gebiede geplaas is om die afgeleë gebiede van die Babiloniese ryk te bevolk. Maar nie al die leiers is na Babilon weggevoer nie. ’n Groot gedeelte van die leiersgemeenskap het na Egipte gevlug. Die agtergeblewenes in Jerusalem het nie werklik ’n prominente rol gespeel in die leierskap van Judaïsme nie, behalwe dat hulle die terugkerendes later teëgestaan het. So het daar dan twee prominente leiersgroeperinge binne die Judaïsme ontstaan, naamlik die Egiptiese groep en die Babiloniese groep.3

In Babilonië is koning Jojagin steeds deur die Babiloniese koning as die koning van die Judeërs aanvaar. Die Judeërs het in aparte gebiede gewoon maar het nog steeds as ’n etniese en religieuse entiteit gefunksioneer. Alle Judeërs van die Babiloniese ryk het onder die gesag van koning Jojagin geval. Die priesters wat gesag uitgeoefen het in die tempel van Jerusalem, het nog steeds die gesag in Babilon behou, alhoewel die tempel verwoes was. Op hierdie manier is die gesagstruktuur van Jerusalem van voor die ballingskap oorgedra na Babilon, onder die steeds funksionerende Dawidiese koningshuis en ou priesterorde van Jerusalem.4

2.2 Die Egiptiese lyn tydens die ballingskap(pe)
Terwyl die Judese priesterlike en koninklike gesag in Babilon onderhou is, het die Egiptiese groep ook in Egipte op hulle eie gefunksioneer, alhoewel hulle nie die amptelike steun geniet het van die regeerders nie. Hulle het selfs hulle eie tempel gebou en hulle priesterlike funksies in die tempel voortgesit.5
3. Die gesag van die Babiloniese lyn brei uit onder die Persiese Ryk met die herstel van Jerusalem en die onderwerping van die Egiptiese lyn
3.1 Die Babiloniese lyn na die ballingskap(pe) Met die aanbreek van die Persiese ryk in 539 v.C. is die gesag van die Babiloniese lyn net verder verstewig en is die Dawidiese huis steeds as die gesag onder Judaïsme erken. Serubbabel, die nakomeling van Jojagin, is deur die Persiese koning Kores in 583 v.C. gestuur om die tempel in Jerusalem te gaan herbou. Dit is nie werklik seker wat gebeur het nie, maar Serubbabel het met verloop van tyd van die toneel verdwyn en daarmee het die einde aan die Dawidiese huis aangebreek. Van hierdie punt af sou daar ’n hiërargiese tydperk ontstaan waarin die priesters die gesag in Judaïsme gehandhaaf het.6

Die gesag van die Babiloniese lyn word dus nie net deur die Persiese konings instand gehou nie, maar bevestig en amptelik gemaak as die gesagdraende party van alle Judaïsme in die hele Persiese ryk. Dit beteken dat ook die Judaïste in Egipte onder die gesag van die Babiloniese lyn geressorteer het. Die religieuse wette en verordeninge wat die Babiloniese lyn gemaak het, moes deur almal wat hulleself onder die Judaïsme geag het, onderhou word.7

Maar dit was met terugkeer van Nehemia en Esra wat die eintlike hervorming plaasgevind het, en die gesag van die Babiloniese lyn in Jerusalem verseker is. Hulle het opgetree namens die Koning van Persië.

Die priesters van die Babiloniese lyn was niks anders as amptenare van die Persiese konings nie. Hulle was dus met ontsaglike mag beklee. Behalwe dat hulle as verteenwoordigers van die koning opgetree het, het alle Judaïste nog steeds onder die administrasie van die Babiloniese lyn geressorteer, wat nou gestasioneer was in Jerusalem met die tempel as die amptelike “Persiese administratiewe kantoor”. Jerusalem was dus die kern van alle Judaïsme, op teologiese, religieuse sowel as staatkundige gebied, met gesag van die Persiese koning.8

3.2 Die Egiptiese lyn na die ballingskap(pe)
Die Egiptiese lyn het ook onder hierdie gesag van Jerusalem geval. Ten spyte van die tempel wat hulle gehad het, het hulle nogtans Jerusalem as die kernstad van Judaïsme beskou. In die Egiptiese tempel het daar doelbewus heelwat minder religieuse kultiese handelinge plaasgevind om sodoende hierdie groep se ondergeskiktheid aan Jerusalem te demonstreer. Op dié stadium was dié groepering in die gebied rondom die Elifantyne gesentreerd. Na ’n opstand wat plaasgevind het in Egipte het die meeste Judaïste gevlug na die gebied rondom die plek wat later as Aleksandrië bekend sou staan.9
3.3 Hebreeus as ’n kenmerk van die Babiloniese lyn
Een van die belangrikste aspekte van die Babiloniese lyn was die instandhouding van Hebreeus. Met die terugkeer van verteenwoordigers van die Babiloniese lyn het die meeste mense in Palestina die taal van die ryk gepraat, naamlik Aramees. Die situasie was so erg gewees dat die priesters van die Babiloniese lyn die Hebreeuse geskrifte aan die volk moes vertaal. Dit was in hierdie tyd wat die kanonontwikkeling ’n groot hupstoot gekry het. Die vorming van ’n kanon was veral om die taal te behou. Die gevolg was dat Hebreeus deur die Babiloniese lyn gehandhaaf is, te midde van ’n donker tydperk wat Hebreeus in die algemeen beleef het.10
4. Die Egiptiese word die Hellenistiese lyn en neem die gesag van die Babiloniese lyn oor
4.1 Aleksander die Grote
Hellenisering was aan die orde in die opkomende Griekse ryk. Sedert 334 v.C. het Aleksander die Grote sy gesag met mag en mening uitgebrei. Hy het die Persiese ryk verower en dit by sy reeds verowerde gebiede ingelyf. Aleksander het die droom gehad om die totale gebied rondom die Middellandse See te verhelleniseer. Uiteindelik het hellenisering nie slegs rondom die Middellandse See geslaag nie, maar in die hele Griekse ryk. Tydens sy lewe het hy die stad Aleksandrië gestig aan die seekus van Egipte. Behalwe dat Aleksandrië een van die belangrikste hawestede geword het, was dit die wortel en bron van Hellenisasie, asook die kennis en filosofie wat dit onderlê het. Dit was dan in hierdie tyd wat die Egiptiese lyn binne die Judaïsme in die Hellenistiese lyn ontwikkel het. Dit is hierdie Hellenistiese lyn wat regdeur die geskiedenis van Judaïsme en die Christendom ’n uiters belangrike rol sou vervul.11

Op grond van die algehele Helleniseringsproses, het die Hellenistiese groep Judaïste wat hulle in Aleksandrië gevestig het, al meer prominensie begin geniet, sodat dit ’n baie belangrike setel was vir Judaïsme en die Hellenistiese lyn ’n gevaar vir die Babiloniese lyn begin inhou het. Nogtans was Jerusalem die fokuspunt van Judaïsme en steeds die amptelike gesaghouer van alle Judaïste in die Griekse ryk. In hierdie tyd was dit meer die kulturele invloed van die Hellenistiese lyn wat die bedreiging gevorm het en stelselmatig begin veld wen het.12

4.2 Antiogus die Grote
Na die dood van Aleksander die Grote is sy ryk in ’n aantal gebiede verdeel. Dit was in hierdie tyd wat Jerusalem die middelpunt van konflik geword het tussen twee van hierdie Griekse gebiede naamlik die Ptolemeïese en die Seleukidiese ryk. Nadat Palestina byna soos ’n ou lap tussen twee honde rondgetrek is, het dit op die einde onder die gesag van die Seleukidiese ryk beland, wat regeer is deur Antiogus die Grote.

Antiogus was ’n goeie regeerder en hy het ook volgehou om Judea se administrasie oor te laat aan die priesters van die tempel, saam met die gesag oor alle Judaïste in sy ryk. Die gesag was dus steeds in die hande van die Babiloniese lyn. Nogtans was Antiogus ’n groot aanhanger van die Griekse kultuur sodat hy heelwat Helleniserende maatreëls ingestel het en heelparty aksies geloods het om sy ryk te helleniseer. Die gevolg was dat die Hellenistiese lyn binne die Judaïsme op kulturele vlak die Babiloniese lyn se invloed stelselmatig ondermyn en oortref het. Die Judaïste het al meer Hellenistiese neigings begin toon.13

4.3 Antiogus IV Epifanus
Hierdie proses het egter eers breekpunt bereik onder die Seleukidiese regeerder Antiogus IV Epifanus (175-164 v.C.). Terwyl Antiogus IV die Hellenisering op die Judaïste probeer afdwing het, het hy terselfdertyd pogings aangewend om die Judaïsme totaal uit te roei. Onder sy regering was daar al heelwat priesters van die Hellenistiese lyn wat openlik die Griekse kultuur goedgekeur en onder die Judeërs aangemoedig het. Die Hellenistiese lyn het al hoe meer gesag gehad en selfs die Babiloniese lyn totaal verswelg.

In die Seleukidiese ryk was die stad Antiochië die eweknie van Egipte se Aleksandrië. So was daar nou twee prominente stede as bakermat van die Hellenistiese lyn, naamlik Antiochië en Aleksandrië. Jerusalem was nou onder die beheer van die Hellenistiese lyn.14 Hierdie situasie sou egter teen 167 vC verander met die opkoms van die Hasmoniese dinastie binne die Judaïsme, wat die Hellenistiese lyn sou teenstaan, maar ook verdeling in die Babiloniese lyn sou bring.

5. Die Hasmoniese dinastie as oorwinnaar oor die Hellenistiese lyn, en as handhawer dog verdeler van die Babiloniese lyn
5.1 Die vestiging van die Hasmoniese dinastie
Die wiel van oorheersing deur die Hellenistiese lyn het skielik begin draai in 167 vC deur die toedoen van een man, Mattathias, wat gevoel het dat daar ’n stop gesit moet word aan die onderdrukking van die Judaïsme en die vernietiging van hulle godsdiens. Mattathias het ’n Seleukidiese gesant en priester wat aan die gode wou offer doodgemaak, en sodoende ’n opstand teen Antiochus IV Epifanus (175-164 v.C.) begin. Na Mattathias se dood, is hy opgevolg deur sy seun Judas, waartydens die gesag in die tempel gewissel het tussen die Babiloniese lyn en die Hellenistiese lyn. Judas is na sy dood opgevolg deur sy broer Jonatan (161 –c.142 v.C.). Maar dit was eers tydens die bewindskap van Simon (c.142-134 v.C.) wat die Hasmoniese dinastie werklik outonomie vir die Judaïsme bewerkstellig het en die gesag van die Babiloniese lyn in die tempel gevestig het. Simon is ook deur die Judeërs aangewys as hoëpriester, generaal en etnarg.15
5.2 Die Babiloniese lyn verdeel in die Hasmoniese en die Henogitiese lyn
Dit was juis hierdie handeling wat ’n verdeling in die Babiloniese lyn teweeg gebring het. Die Hasmoniese opstand het hoofsaaklik ontwikkel uit ’n groep wat bekend staan as die Gasidiem of die Vromes. Dit was ’n rigting in die Babiloniese lyn wat die Mosaïese wet streng wou nakom. Met die verklaring van Simon as hoëpriester, het ’n gedeelte van hierdie Gasidiem weggebreek. Dit was vermoedelik hierdie gedeelte van die Gasidiem wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die Henogitiese rigting. Die Babiloniese lyn breek dus in ongeveer die tyd van Simon (c.142-134 v.C.) op in twee rigtings naamlik die Henogitiese lyn en die Hasmonitiese lyn. Volgens tradisie het die Henogitiese lyn weggebreek op grond van die “valse” aanstelling van Simon as hoëpriester, omdat hy nie afkomstig is uit die Levitiese stam nie.16 Die Henogitiese lyn was sterk apokalipties ingestel, terwyl die Hasmonitiese sterk Mosaïes ingestel was. Die Henogitiese lyn was gekant teen die priesterlike orde van die tempel, alhoewel hulle nie die tempel verwerp het nie.17
5.3 Die ontwikkeling van die Hasmonitiese lyn
Onder die Hasmoniese dinastie het die Hasmonitiese lyn die tempel beheer en die religieuse gesag gedra. Dit was ook gedurende die Hasmoniese dinastie dat die Hasmonitiese lyn verder opgebreek het in die Fariseërs en die Sadduseërs. Buiten die teologiese verskille wat tussen die twee groepe bestaan het (waarop ons nie hier kan ingaan nie), het hulle ook verskillende politieke affiniteite gehad. Die Hasmoniese konings se steun het deur die loop van tyd gewissel tussen die twee partye. Soos wat die Hasmonitiese dinastie van heersers verwissel het, so het die gesag van die Fariseërs of Sadduseërs gewissel op grond van die steun wat hulle van die heerser ontvang het.18

5.4 Die ontwikkeling van die Henogitiese lyn
Behalwe die Hasmonitiese lyn wat in twee verdeel het, het daar ook ’n verdeling plaasgevind binne die Henogitiese lyn. Die Henogitiese lyn het stelselmatig Hasmonitiese lede begin trek en weer nader beweeg aan die Hasmonitiese lyn. Dit het teweeg gebring dat die vorige verwydering van die onderhouding van die Mosaïese wet stelselmatig vernou het. Dit het aanleiding gegee tot die rigting waarvan die aanhangers as die Esseners bekend sou staan. Die Esseners as veranderde Henogitiese lyn het ontwikkel in die Qumranitiese Esseners en die Henogitiese Esseners.19

Alhoewel daar heelwat oorvleuelings bestaan tussen die Qumranitiese en die Henogitiese Esseners, was daar tog radikale verskille. Anders as die Qumranitiese Esseners het die Henogitiese Esseners tussen die mense gelewe in dorpe en stede, terwyl die Qumranitiese Esseners ’n asketiese bestaan gevoer het. Die Qumranitiese Esseners het (waarskynlik) nie getrou nie terwyl die Henogitiese Esseners wel in die huwelik getree het. Daar bestaan ook ’n effense verskil in die skriftuur wat hulle gebruik het. Alhoewel die Henogitiese lyn weer nader beweeg het aan die Mosaïese wet, het hulle nog steeds antagonistiese gestaan teenoor die Hasmonitiese priester-orde van die tempel in Jerusalem. Hulle het ook die sonkalender gehandhaaf terwyl die Hasmonitiese lyn die maankalender gehandhaaf het. Daar was ook ’n verskil in feeste en feestye.20

5.5 Voorbereidende invloed op die Christendom
In die Hasmoniese tydperk het daar ’n paar belangrike gebeure plaasgevind wat ook ’n invloed sou hê op die milieu van die eerste eeu, die milieu wat sou dien as die fondament waarop die Christendom sou voortbou.

Tydens die Hasmoniese dinastie het die Hasmoniete steeds voortgegaan met die uitbreiding van hulle magsgebied. So het dit gebeur dat hulle Samaria ingeval en die tempel op die Gerisimberg totaal vernietig het. Dit het ’n onherstelbare breuk veroorsaak tussen die Samaritane en die Babiloniese lyn wat reeds ver van mekaar wegbeweeg het.

Verder het die Hasmoniete, onder leiding van Hirkanus (134-104 v.C.) se seun Aristobilus (104-103 v.C.), Galilea verower. Hy het ook ’n aantal sinagoges opgerig waaroor hy Fariseërs aangestel het. Op hierdie manier is die Fariseërs met gesag onder die mense beklee, en Galilea onvorm tot ’n Babiloniese bastion. Later sou Jesus en elf van die dissipels uit Galilea afkomstig wees. Slegs Judas Iskariot was uit Judea.21

Na 67 v.C. het daar ’n stryd tussen Hirkanus II en sy jonger broer Aristobilus II ontstaan. Die opportunistiese Idumese politikus Antipater het die stryd tussen die twee broers aangeblaas terwyl hy by die Romeine geflikflooi het. Die stryd tussen die twee broers het so versleg, dat elkeen om hulp aangeklop het by Pompeius, die Romeinse generaal, wat op daardie stadium besig was om na die oostelike provinsies om te sien. Pompeius het dit as ’n geleentheid gesien om Jerusalem in 63 vC te verower, en Antipater, die Idumeër, aan te stel as goewerneur van Palestina. Dit bring dus ’n einde aan die Hasmoniese dinastie. Herodus die Grote het by sy vader Antipater oorgeneem. Daar was wel ’n laaste stuiptrekking van die Hasmoniese dinastie toe een van die Hasmoniese nasate, Antigonus, vir ’n paar jaar lank suksesvol beheer van Jerusalem oorgeneem het, maar met die hulp van Rome, het Herodus weer gesag oor Jerusalem verkry.22

6. Die Hellenistiese lyn, ’n steeds smeulende stille krag met ’n effektiewe uitwerking op die Judaïsme
Ten spyte van die feit dat die amptelike mag van die Judaïsme tydens die Hasmoniese dinastie weer gesentreerd was in die Babiloniese lyn, en meer in die besonder die Hasmonitiese lyn, het die Hellenistiese lyn nie onaktief geraak nie. Alhoewel die Hasmoniese dinastie onafhanklik was, het Rome ontsaglik uitgebrei en ook die Griekse ryk verorber en ingesluit. Ten spyte hiervan is die oorwinnaar deur die oorwonne se kultuur verswelg. Die Romeine het so ’n ontsag vir die Griekse kultuur gehad dat hulle dit in groot mate tot hulle eie geassimileer het, sodat die Romeinse ryk niks anders was as die voortsetting van die Hellenistiese kultuur onder Romeinse administrasie nie. Alhoewel die administratiewe hoofstad in Rome gesetel was, het Aleksandrië en Antiochië belangrike rolle vervul ten opsigte van kennis en filosofie. Hiermee saam het dit die opbloei van Hellenisme verder bevorder sodat Grieks steeds ’n universele spreek-en handelstaal gebly het.23

Dit was in dié verband waar die Hellenistiese lyn in die Judaïsme ’n besondere rol gespeel het. Terwyl die Babiloniese lyn in Jerusalem die basis gevorm het van die Judaïsme se gesag in die hele Romeinse ryk, het die meeste Judaïste buite Palestina gewoon, verspreid oor die hele Romeinse ryk. Hulle universele taal was hoofsaaklik Grieks, wat ook in die sinagoges gebruik was. Voor 70 nC was daar ongeveer 100 000 permanente inwoners in Jerusalem. Gedurende feeste het die getal omtrent gestyg na ’n miljoen mense, wat afkomstig was uit die hele Romeinse ryk. Die Talmoed24 meld dat daar omtrent 390 Griekse sinagoges in Jerusalem was. In elke stad en dorp was daar ’n sinagoge, waar die aanbiddingstaal sowel as die tekste wat gebruik is, Grieks was.

Behalwe vir die Griekse taal waarin die geskrifte vertaal is en wat gedien het as die liturgiese taal in die sinagoge, het die Griekse lewens-en wêreldbeskouing ’n ontsaglike uitwerking op die Judaïste gehad. Na Esra en Nehemia se tyd het daar nog velerlei geskrifte ontstaan wat ook in Judaïsme opgeneem is deur alle partye, die Hasmonitiese sowel as die Henogitiese lyne. Van hierdie geskrifte toon dan elemente van die Hellenistiese filosofie, net soos die latere Nuwe Testamentiese geskrifte.25

7. Oorsig oor die eerste-eeuse fondament waarop die Christendom gebou het
Die Christendom kan nie beskou word as ’n onafhanklike groep waarvan al sy lede van die begin af Christene was nie. Die Christendom het ontwikkel uit ’n unieke konsentraat en samestelling van al die groepe wat in die voorafgaande bespreek is. Jesus se verkondiging, wat later oorgeneem is deur die apostels, was (veral) vir die ore bedoel van hierdie onderskeie Judaïstiese lyne. ’n Oorsig van hoe die situasie in die eerste eeu daar uitgesien het, lyk soos volg:
7.1 Die Babiloniese lyn
Binne die Babiloniese lyn kan die Hasmonitiese en die Henogitiese lyne onderskei word wat, ten spyte van die verskille ook veel raakpunte getoon het.26
7.1.1 Die Hasmonitiese lyn
Die Hasmonitiese lyn was in beheer van die tempel en die Raad. Die Raad of die Sanhedrin het gesag gehad oor alle Judaïste in die hele Romeinse ryk. Dit het Jerusalem een van die kragtigste en magtigste stede in die Romeinse ryk gemaak. In die Hasmonitiese lyn het die Sadduseërs basies in beheer gestaan op grond van hulle afgeleide gesag van die regeerders van die dag. Hulle het hoofsaaklik bestaan uit ’n relatief klein groepe Judaïstiese elite en adellikes. Hulle mag was absoluut gesentreerd rondom die tempel. Dit is ook die rede waarom hulle verdwyn het met die vernietiging van die tempel in 70 nC.27

Aan die ander kant was die Fariseërs in voeling met die volk. Hulle was grootliks in beheer van die sinagoges. Die Fariseërs het ook onderstrominge gehad waarvan die Hillel-en die Shammai-skole die twee bekendstes was. Dit was juis die Hillel-skool wat na die vernietiging van die tempel in Jerusalem die Fariseïsme oorheers het. Omdat die Fariseërs se gesag meer in die volk gelê het as in die tempel, kon hulle voortbestaan na die vernietiging van die tempel in 70 nC. Na 70 nC het die sentrum van Judaïsme ook oos van Jerusalem verskuif na die dorp Jamnia. In die proses het die skeiding tussen die Christendom en die Fariseërs al hoe groter geword. Die Fariseërs het tot so ’n mate as oorwinnaars binne die Judaïsme uitgetree dat die totale Hasmonitiese lyn oorgegaan het in die Fariseïsme, sodat Fariseïsme en Judaïsme sinonieme begrippe geword het, met die Hillel-skool grootliks in beheer. In ongeveer 90 n.C. het daar ’n vergadering te Jamnia plaasgevind waaruit dit duidelik blyk dat daar reeds ’n totale verwydering tussen die Judaïsme en die Christendom bestaan het. By hierdie geleentheid het die Hasmonitiese Judaïsme ook ’n kanon ontwikkel waarin hulle alle Hellenistiese en Henogitiese geskrifte verwerp het. Dit was veral die opkomende geskrifte van die Nuwe Testament wat vir die Judaïste ’n bedreiging ingehou het. Die belangrikste kriteria wat die Jamnia-proses ingestel het, was dat geen boeke wat na Esra ontstaan het as gesagvol beskou is nie. Hiermee het die Judaïsme van hulle kant af die laaste tou van die brug tussen die Judaïsme en die Christendom afgekap.28

Behalwe vir die verskille in magsverteenwoordiging wat bestaan het tussen die Fariseërs en Sadduseërs het daar ook teologiese verskille bestaan. Die Fariseërs het ’n skriftelike en mondelinge Tora besit wat met eweveel gesag hanteer was, terwyl die Sadduseërs nie die mondelinge Tora aanvaar het nie. Die Fariseërs het geglo in die bestaan van geestelike wesens en die opstanding uit die dood, terwyl die Sadduseërs dit verwerp het. Daar bestaan vandag weinig gegewens oor die Sadduseërs. Die Evangelie volgens Johannes noem byvoorbeeld nie eers die Sadduseërs nie. Die gegewens wat wel die Sadduseërs beskryf, skets ’n prentjie van weersprekende denke en kontrasterende karaktereienskappe, terwyl die Fariseërs se hoofkaraktertrek, volgens hulle teëpartye, dié van skynheiligheid was.29

7.1.2 Die Henogitiese lyn
Die Henogitiese lyn het bestaan uit die apokaliptiese Henogitiese denke wat vermeng geraak het met die Hasmonitiese klem op die Mosaïese wet. Die Henogitiese lyn het uiteindelik ook die Esseners ingesluit. Onder die Esseners was daar hoofsaaklik twee groepe naamlik die Qumranitiese Esseners en die Henogitiese Esseners.30 Daar het weinig verskille tussen hulle bestaan, en Josefus31 meld dat hulle siening rakende die huwelik die enigste verskil tussen die twee groepe vorm.32

Tog was daar nog ’n paar opmerklike verskille rakende die sosiale gewoontes van die twee groepe. Die Qumranitiese Esseners het hulle afgesonder van die wêreld en het ’n asketiese bestaan gevoer, terwyl die Henogitiese Esseners tussen die mense gebly het as gewone burgers van die land. Hulle het omgang gehad met die ander groeperings en nie afgesonderd gelewe nie.33

Aan die ander kant was daar ook velerlei ooreenstemminge tussen die twee groepe. Apokaliptiese genres was gewilde literatuur onder die Esseners. Daar het ’n hoë Messiaanse verwagting voorgekom. Hierdie verwagting kon sekerlik aangevuur gewees het deur die feit dat die Henogitiese lyn glad nie in beheer was van die Judaïsme nie. Dit is selfs te betwyfel of hulle enige invloed op die Sanhedrin of die tempel uitgeoefen het. Hulle was wel in voeling met die volk en dit wil voorkom of hulle teologiesgewys meer aanklank gevind het by die Hellenistiese lyn.34

Die Henogitiese lyn het steeds klem gelê op Henogitiese literatuur waarvan die boeke van Henog, Daniël en Jobeil van die prominentste was. Die Henogitiese lyn het verskil van die Hasmonitiese lyn ten opsigte van die kalenders wat hulle gebruik het. Die Hasmonitiese lyn het die maankalender gebruik, terwyl die Henogitiese lyn die sonkalender gebruik het. Daar was ook ’n verskil in feeste wat hulle gehou het sowel as die wyse waarop hulle die feeste gehou het. Geloofsgenesing was ook ’n prominente verskynsel onder die Henogitiese lyn. Die geestelike wêreld en die lewe na die dood was ’n baie belangrike tema in die Henogitiese lyn, asook die herstel van die ware priesterorde van die tempel. Dit word afgelei uit die steeds venynige teenkanting teen die Hasmonitiese priesterorde. Die Henogitiese lyn het ook ’n gemiddelde skriftuur met die Babiloniese lyn gedeel, maar het nog ekstra geskrifte gehad, waarvan die meeste vandag onder apokriewe geskrifte gereken word.35

7.2 Die Hellenistiese lyn
Die Hellenistiese lyn was nie werklik in die eerste eeu ’n lyn op sy eie nie. Dit was hoofsaaklik die verhelleniseerde spieëlbeeld van die Babiloniese lyn, soos verteenwoordig in die Romeinse ryk. Die Hellenistiese lyn was ook verdeel in die Hasmonitiesgesindes en die Henogitiesgesindes. Saulus van Tarsus was ’n voorbeeld van ’n Hasmonitiesgesinde Hellenis, terwyl die Therapeutae of Genesers in Egipte ‘n voorbeeld is van die Henogitiesgesinde Helleniste.36

Die prominentste rol wat die Hellenistiese lyn gespeel het ten opsigte van Judaïsme, was die gebruik van Grieks in die sinagoges. Weens die Hellenistiese karakter van die Henogitiese lyn, kon die Hellenistiese lyn makliker aanklank vind by die Henogitiesgesinde Hellenistiese lyn.37

8. Die eerste baksteen van die Christendom op die Judaïstiese fondament
8.1 Jesus begin bou op die Henogitiese Esseners
Dit was op die fondament wat in paragraaf 7 beskryf is, waarop Jesus begin bou het. Hierdie artikel veronderstel dat Jesus en Johannes die Doper afkomstig was uit die Henogitiese Esseners. Dit sou verklaar waarom Jesus so baie teenkanting ervaar het van die Hasmonitiese lyn, by name die Fariseërs en Sadduseërs, soos ook van die Sanhedrin.38 En as deel van die Babiloniese lyn sou Jesus ook antogonisme van en vir die Samaritane ervaar het.

En omdat Jesus nie deel was van die Qumranitiese Esseners nie, het Hy ook onder die gewone mense gewandel, met sondaars omgegaan en die evangelie aan die volk verkondig. Jesus het Hom nie onttrek van die samelewing nie, maar met sondaars geëet en gepraat, wat nie onder die Qumranitiese Esseners toelaatbaar was nie.39

Die groot verskil tussen die Christendom en Judaïsme het natuurlik om die Messias gesentreer. Vir die Christene was Jesus die vervulling van die profesie rakende die Messias, terwyl die Judaïste nog die messias verwag het en nie Jesus as die Messias, Christus of Gesalfde van Israel herken het nie. Saam met die geloof dat Jesus die Messias is, het die Christene dan ook nog die geloof gehandhaaf aangaande die gekruisigde Jesus wat opgestaan het uit die dood sodat mense se sondes vergewe kan word en hulle die ewige lewe kan beërwe. Hierdie geloof was die hartaar van die Christendom en die basis waarop hy hom van die Judaïsme onderskei het.40

8.2 Die eerste verdieping van die Christendom bou op die Hasmonitiese lyn en veroorsaak wrywing met die Hellenistiese lyn
Terwyl die Christendom hoofsaaklik gebaseer was op die Henogitiese Esseners en die meeste aanhangers soortgelyke apokaliptiese eienskappe vertoon het, was die eerste sekel ingeslaan onder die Hasmonitiese lyn met sy klem op die Mosaïese wet. Die dissipels het oorspronklik in Jerusalem agtergebly waar hulle nog gereeld die tempel besoek het en waar hulle ook gepreek het. Om hierdie rede het die vroegste gemeentes hoofsaaklik in Jerusalem en omliggende gebiede ontstaan, waarvan die meeste aanhangers Hasmonitiese neigings getoon het.41

Op grond van die toenemende Hasmonitiese karakter wat hom in die vroeë ongedefinieerde Christendom ingeburger het, word dit ’n wrywingspunt met die groeiende getal aanhangers uit die Hellenistiese lyn. Laasgenoemde het hoofsaaklik bestaan uit Hellenistiese Judaïste wat op pelgrimstogte na Jerusalem gekom het vir die feeste. Die Hellenistiese Christene het meer geneig na die Henogitiese lyn, terwyl die Babiloniese lyn van die Christendom ’n meer Hasmonitiese karakter aangeneem het.42

9. Die verdeling van die Christendom in die Babiloniese lyn, die Hellenistiese lyn en die Heidense lyn en die afsnyding van die Judaïstiese naelstring
Omdat Saulus van Tarsus hulle vervolg het, het baie Christene na Damaskus en Antiochië gevlug, wat alreeds sterk Henogitiese steun geniet het. Dit was hoofsaaklik die Hellenistiese lyn wat gevlug het, terwyl die Babiloniese lyn steeds in en rondom Jerusalem gefunksioneer het. In die proses het daar twee onderskeibare groepe ontstaan: Die een groep was die Judaïsties gesinde Christene wat hoofsaaklik uit die Babiloniese lyn opgebou is. Die ander groep het bestaan uit die Hellenisties gesindes, wat hoofsaaklik uit die Hellenistiese lyn afkomstig is. Eersgenoemde het in groter mate ’n Hasmonitiese geaardheid geopenbaar, en laasgenoemde meer ’n Henogitiese geaardheid. Die Babiloniese lyn was gesentreerd rondom Jerusalem, terwyl die Hellenistiese lyn gesentreerd was rondom Antiochië en Damaskus.43

Daar het immers ’n verdere verdeling plaasgevind wat gepaard gegaan het met die sendingreise, in die besonder dié van Paulus. Soos wat die evangelie uitgebrei het, is dit ook verkondig aan nie-Judaïste. Uit die Judaïstiese oogpunt was ’n nie-Judaïs ’n heiden. Op hierdie manier het daar ’n Heidense Christendom ontstaan. Met die ontstaan van die Heidense Christendom het daar nuwe vrae opgeduik, onder andere wat van hulle verwag word ten opsigte van die wet en die apostoliese gesag. Ten spyte van toenemende getalle Heidense en Hellenistiese Christene, het die gesag steeds gelê in die apostels, wat steeds in Jerusalem gesetel was. So het die Babiloniese lyn steeds gesag uitgeoefen selfs op die Christendom.44 Daar was vier verskillende menings oor die rol en verwagtinge van die Heidense Christendom:

  1. Hulle moes die wet volledig onderhou en waarlik deel van Israel word.
  2. Die Judaïstiese groep moet die wet onderhou en nie die Heidense lyn nie. Hierdie twee is onversmeltbaar in die gemeente.
  3. Niemand is meer verplig om die Wet te onderhou nie omdat heil deur die kruis van Jesus bewerk word. Die OT is die geskiedenis wat vertel hoe Israel die eerste volk is vir wie die heil aangebied is.
  4. Die seremoniële en offerdienste is afskuwelik vir albei groepe, en die OT bevat slegs geestelike gebooie wat die evangelie in volkomer wyse voorstel.45

Al vier hierdie standpunte is deur verskillende groepe gehandhaaf. Dit is duidelik ’n spektrum tussen die Hasmonitiese en die Henogitiese lyne. Tog is dit duidelik dat die vryheid van die Heidense Christene vroeg reeds aanvaar is teenoor die verpligting van Israeliete om die wet na te kom.46

Met die verwoesting van die temple in 70 nC, het die vervolging deur die Romeinse owerheid ook gefokus op die Christendom as net nog ’n uitbreiding van Judaïsme. Dit het genoodsaak dat die Jerusalem gesindes uitgewyk het uit Jerusalem, en baie hulle in Antiochië gaan vestig het. Antiochië het nou die kern van die Christendom geword. Weens die groot aantal aanhangers van die Christendom uit die Hellenistiese lyn, het die gesag stadigaan begin oorspoel na die Hellenistiese lyn. Terwyl die apostels egter gelewe het, was hulle die steunpilaar van die Christendom se belydenis, leer en liturgie. Met die afsterwe van die apostels, het die gesag van die Babiloniese lyn stelselmatig verlore gegaan. So het dit gekom dat die Hellenistiese en die Heidense lyne die grootste gesag in die Christendom begin uitoefen het.47

10. Samevatting
Die Christendom het nie op ’n skoon lei begin nie, maar het gebou op ’n Judaïstiese fondament wat saamgestel is uit ’n unieke verhouding tussen ’n aantal kultureel en teologies gevormde lyne. Hierdie teologiese en kulturele lyne het ’n lang geskiedenis van ontwikkeling gehad wat terug gevoer kon word na die Babiloniese ballingskap. Die twee hooflyne is onderskeidelik die Babiloniese en die Hellenistiese lyne. Die Hellenistiese lyn het slegs tydens die Seleukidiese ryk fisies die gesag oor Judaïsme uitgeoefen. Vir die res van die tyd was dit wel ’n kulturele en filosofiese faktor van groot belang in die ontwikkeling van Judaïsme en die latere Christendom.

Uit die Babiloniese lyn het daar twee lyne ontspring, naamlik die Hasmonitiese en die Henogitiese lyne. Die twee het antagonisties teenoor mekaar gestaan waar eersgenoemde meer Mosaïes van karakter was, terwyl laasgenoemde meer apokalipties van aard was. Die Hasmonitiese het die amptelike gesag onder die Hasmoniese dinastie geniet sodat hulle tot en met die vernietiging van die tempel die gesag oor die volle Judaïsme uitgeoefen het. Die Hasmonitiese lyn het opgebreek in die Sadduseërs en die Fariseërs. Terwyl die Sadduseërs verdwyn het na die verwoesting van die tempel in 70 nC het die Fariseërs as oorwinnaars binne die Judaïsme uitgetree. Judaïsme het sinoniem geword met Fariseïsme.

Die Henogitiese lyn is mettertyd al hoe meer deur die Hasmonitiese lyn beïnvloed en ’n meer Mosaïese karakter getoon. Hierdie nuwe tendens het aanleiding gegee tot die ontstaan van die Esseners. Die Esseners kan in twee groepe verdeel word naamlik die Qumranitiese Esseners en die Henogitiese Esseners. Die Christendom het hoofsaaklik ontspring uit die Henogitiese Esseners wat veral twee kenmerke gehad het, naamlik ’n apokaliptiese inslag, en ’n tendens om “onder mense te woon”.

Die Christendom het wel op Judaïstiese teologiese en kulturele lyne as fondament gebou, en hulle is aanvanklik gesien as net nog ’n Judaïstiese groep -maar die Christendom het stelselmatig sy Judaïstiese naelstring geknip. Die geloof in die Messiasskap van Jesus, in Jesus as die Verlosser wat gesterf en opgestaan het, was die basis van die onderskeid tussen Judaïs en Christen.

Binne die Christendom het die Babiloniese lyn, waaruit dit ontstaan het, aanvanklik die gesag gedra. Die Hellenistiese lyn het egter deurgaans ’n sterk invloed op die Christelike kultuur en teologie uitgeoefen. Mettertyd het ’n derde groep ontstaan, naamlik die Heidense Christendom. Met die verwoesting van Jerusalem en die afsterwe van die apostels het die Babiloniese Christendom sy gesag oor die Christendom verloor sodat die gesag in die Christendom oorgegaan het na die Hellenistiese en die Heidense Christendom.


BIBLIOGRAFIE

Alexander, D. & Alexander, P. 1977
    Handboek by die Bybel. [Elekt.Uitg.], Logos Library System, Kaapstad: Lux Verbi.
Baccoccini, G. 2005
    Enoch and Qumran origins. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.
Barnett, P. 2005
    The birth of Christianity: The first twenty years. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.
Barrera, J.T. 1998
    The Jewish Bible and the Christian Bible: An introduction to the history of the Bible. 2de Uitgawe. Leiden : Brill.
Beckwith, R.B. 1985
    The Old Testament canon of the New Testament Church and its background in Early Judaïsm, Oxford: Warden of Latimer House.
Bright, J. 1981
    A History of Israel. 3de Uitgawe. Philadelphia, Pennsylvania: The Westminster Press.
Brooke, G.J. 2005
    The Dead Sea Scrolls and the New Testament. Minneapolis: Fortress Press.
Deist, F.E. 1978
    Towards the text of the Old Testament. Pretoria: DRChurch Booksellers.
Deist, F.E. 1988
    Witnesses to the Old Testament. Pretoria: DR Church Booksellers.
Du Toit, A.B. (red) 1997
    Handleiding by die Nuwe Testament, Band II.: Die leefwêreld van die Nuwe Testament. [elekt. uitg.]: Logos Library System, Halfway House: Perskor.
Edersheim, A. 1988
    Bible History: Old Testament [elekt. Uitg.], Oak Harbor, Wa: Logos Library System.
Flusser, D. 1987
    Jewish sources in early Christianity. New York: Adama Books.
Gispen, W.H., Oosterhoff, B.J., Ridderbos, H.N. (reds) 1977
    Bybelse Ensiklopedie. 2de uitgawe, [elekt. uitg.]: Logos Library System, Kaapstad: Verenigde Protestantse Uitgewers.
Gowers, R. 1987
    The New Manners and Customs of Bible Times. [elekt. uitg.]: Logos Library System, Chicago: The Moody Bible Institute of Chicago.
Green, J.G., McKnight, S. & Marshall, I.H. (reds) 1998
    Dictionary of Jesus and the Gospels. [elekt. uitg.]: Logos Library System, Downer’s Grove, IL: InterVarsity Press.
Hayford, J.W. 1997
    Hayford’s Bible Handbook. [Elekt.Uitg.]: Logos Library System.
Hengel, M. 2002
    The Septuagint as Christian Scripture. Edenburgh: T&T Clark.
McDonald, L.M. & Sanders, J.A. (reds) 2002
    The canon debate. Peabody, Massachusetts: Hendrickson.
Orr, J. (red) 1999
    International Standard Bible Encyclopaedia. [elekt. uitg.]: Albany, OR: Ages Software, 1999.
Schniedewind , W.M. 2004
    How the Bible became a book: the textualization of ancient Israel. Cambridge UK, New York: Cambridge University Press.
Sundberg, A.C. Jnr 1964
    The Old Testament of the early church. Cambridge: Harvard University Press.
Swanson, T.N. 1970
    The closing of the collection of holy scriptures: A study in the history of the canonization of the Old Testament. Michigan: Ann Arbor. University Microfilms.
Tripolitis, A. 2002
    Religions of the Hellenistic-Roman age. Grand Rapids, Michigan: WB Eerdmans.
Van der Kooij, K. & Van der Toorn, K. (reds.) 1998
    Canonization and decanonization. Papers presented to the international conference of the Leiden Institute for the Study of Religions (LISOR) held at Leiden 9-10 January 1997. Boston, Leiden, Köln: Brill.
Van Zyl, A.H. 1974
    Net een boek. ’n Kanongeskiedenis van die Ou Testament. Pretoria: NGKerk Boekhandel.
Vine, W.E. 1981
    Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words. [elekt. uitg.]: Logos Research Systems. Fleming Grand Rapids, MI: H. Revell.
Von Campenhausen, H. 1977
    The Formation of the Christian Bible. Philadelphia: Fortress.
Von Harnack, A. 1980
    Lehrbuch der Dogmengeschichte vol.1: Die Entstehung des Kirchlichein Dogmas. Darmstadt: Wissenschafliche Buchgesellschaft.
Walker, W. 1980
    A history of the Christian Church. 3de Uitgawe: 2de Druk. Edinburgh: T&T Clark.
Weiss, R.A. 1994
    Jewish Sects of the New Testament Era. [Elekt.Uitg.]: Logos Library System, Cedar Hill, TX: Cross Talk.
Würthwein, E. 1957
    The text of the Old Testament. Oxford: Basil Blackwell.
Youngblood, R.F. (red) 1997
    Nelson’s new illustrated Bible dictionary, [Elekt.Uitg.]: Logos Library System. Nashville: Thomas Nelson.


NOTAS

  1. Hierdie artikel is gebaseer op ‘n M.Th. verhandeling, deur Wilhelm Pretorius, “Bakens van die Ou Testamentiese kanonontwikkeling binne die eerste vyf eeue van die Christendom”, onder leiding van Prof. C Landman. Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. Vir inhandiging Februarie 2007.
  2. Tripolitis 2002: 62; Schniedewind 2004: 139,141-147; Edersheim 1998: § xvii; Gispen e.a. 1997: Ballingskap; Bright 1981: § 9.A.1a-c.
  3. Tripolitis 2002: 62; Schniedewind 2004: 139,141-147; Edersheim 1998: § xvii; Gispen e.a. 1997: Ballingskap; Bright 1981: § 9.A.1a-c.
  4. Schniedewind 2004: 139,141-147, 149-154; Edersheim 1998: § xvii; Tripolitis 2002: 62; Gispen e.a. 1997: Ballingskap. Bright 1981: § 9.A.1a-c.
  5. Tripolitis 2002: 62; Gispen e.a. 1997: Ballingskap; Bright 1981: § 9.A.1bc; B. 2c, 3a; 10.B. 1c; 11.A.1a-c.
  6. Schniedewind 2004: 158-164; Gispen e.a. 1997: Ballingskap; Bright 1981: § 9.A.3a-c; B.1a-c, 2c, 3a-c
  7. Schniedewind 2004: 167-174, 182-183, 188-189, 192-193; Tripolitis 2002: 62; Gispen e.a. 1997: Ballingskap; Bright 1981: § 9.A.1b-c; B. 2c, 3a; 10.B.1c,e; 11.A.1a-c.
  8. Schniedewind 2004: 140, 167-178, 182-183, 188-189, 192-193; Tripolitis 2002: 62; Bright 1981: § 10.B.1e. ; B.2b; 11.A.1c; Deist 1978: 127-140; Würthwein 157: 56-57; Van Zyl 1974: 49-50.
  9. Tripolitis 2002: 62; Gispen e.a. 1997: Ballingskap; Bright 1981: § 9. A.1b-c; B. 2c, 3a; 10.B. 1c; 11.A.1a-c.
  10. Schniedewind 2004: 140, 167-178, 182-183, 188-189, 192-193; Tripolitis 2002: 62; Bright 1981: § 10.B.1e; B.2b; 11.A.1c; Deist 1978: 127-140; Würthwein 157: 56-57; Van Zyl 1974: 49-50.
  11. Alexander & Alexander 1977: Die historiese en politieke agtergrond van Israel; Du Toit 1997: 4.3.3. Die ryk van Seleukus; Bright 1981: § 11. A.2ab; Tripolitis 2002: 3-4, 64, 88-89; Orr 1999: The Dispersion.
  12. Tripolitis 2002: 62; Gispen e.a. 1997: Ballingskap.
  13. Alexander & Alexander 1977: Die historiese en politieke agtergrond van Israel; Du Toit 1997: 4.3.3. Die ryk van Seleukus; Youngblood 1997: Maccabees; Bright 1981: § 11. A.2a-c, B.1a; Orr 1999: The Dispersion.
  14. Alexander & Alexander 1977: Die historiese en politieke agtergrond van Israel.; Du Toit 1997: 4.3.3. Die ryk van Seleukus; Maccabees; Youngblood 1997: Maccabees; Bright 1982: 11, B: 2a.
  15. Du Toit 1997: 10.3-10.4; Youngblood 1997: Maccabees; Bright 1981: § 2c.
  16. Du Toit 1997: 10.4; Vine 1981: Pharisees; Flusser 1987: 33; Suter DW in Boccaccini 2005: 330; Weiss 1994: Pharisees: The winner and still champion.
  17. Collins JJ in Boccaccini 2005: 349; Wright BG III in Boccaccini 2005: 397; Suter DW in Boccaccini 2005: 329-330.
  18. Suter DW in Boccaccini 2005: 330; Barrera 1998: 217-218.
  19. Suter DW in Boccaccini 2005: 331-332; Anderson JS in Boccaccini 2005: 354; Davila JR in Boccaccini 2005: 356; Wright BG III in Boccaccini 2005: 395; VanderKam JC in Boccaccini 2005: 390; Wright BG III in Boccaccini 2005: 395, 399.
  20. Wright BG III in Boccaccini 2005: 495-396; Anderson JS in Boccaccini 2005: 354; Davila JR in Boccaccini 2005: 356; Charlesworth JH in Boccaccini 2005: 449-450; Flusser 1987: 70; Reed AY in Boccaccini 2005: 338; Boccaccini 2005: 421; VanderKam JC in Boccaccini 2005: 388, 392; Collins JJ in Boccaccini 2005: 348; Flusser 1987: 70; Suter DW in Boccaccini 2005: 335; Reeves JC in Boccaccini 2005: 373.
  21. Du Toit 1997: 10.4.
  22. Du Toit 1997: 10.4; 10.5;Alexander & Alexander 1977: Die historiese en politieke agtergrond van Israel.
  23. Flusser 1987: 73-74; Hengel 2002: 21-22, 43.
  24. Ketowiem 105 a
  25. Tripolitis 2002: 3, 37-44; Green, McKnight & Marshall 1998: 2.4.3.
  26. Flusser 1987: 68.
  27. Weiss 1994: Pharisees: The winner and still champion.
  28. Flusser 1987: 24; Van Zyl 1974: 88; Weiss 1994: Pharisees: The winner and still champion; Gowers 1987: The Pharisees.
  29. Sundberg 1964: 78-79; Van Zyl 1974: 77; Barrera 1998: 21, 217, 219-220; Swanson 1970: 124-125.
  30. Martone C in Boccaccini 2005: 361-365.
  31. Bel. Jud. 2.160
  32. Collins JJ in Boccaccini 2005: 348.
  33. Flusser 1987: 40, 69-70; Collins JJ in Boccaccini 2005: 346; Wright BG III in Boccaccini 2005: 399.
  34. Barrera 1998: 225; Beckwith 1985: 35; Von Campenhausen 1977: 5.
  35. Reed AY in Boccaccini 2005: 339; Beckwith 1985: 35; Barrera 1998: 198, 225; Charlesworth JH in Boccaccini 2005: 449-450.
  36. Sundberg 1964: 68-69; Beckwith 1985: 53; Van Zyl 1974: 69, 76; Swanson 1970: 248-249; Hengel 2002: 98-99.
  37. Flusser 1987: 75; Van Zyl 1974: 55-56; Deist 1988: 138-139; Hayford 1997: Hellenism; Beckwith 1985: 32.
  38. Walker 1980: 4.
  39. Brooke 2005: 21-26; Flusser 1987: 24, 40-42, 46-47, 49-51, 56; Evans in McDonald & Sanders 2002:185, 189-190.
  40. Tripolitis 2002: 87; Tomson in Van der Kooij & Van der Toorn 1998: 110; Walker 1980: 43; Weiss 1994: Pharisees: The winner and still champion.
  41. Barnett 2005: 19-20, 32, 57; Barrera 1998: 31, 210.
  42. Tripolitis 2002: 3, 64-65, 92; Flusser 1987: 75; Barnett 2005:71-76.
  43. Du Toit 1997: § 348; Barnett 2005: 18-20,31-32, 40-50, 57, 68, 79-80; Tripolitis 2002: 92; Vine 1981: Pharisees.
  44. Barnett 2005:84; Von Harnack 1980 vol 1: 100; Von Campenhausen 1977: 10; Tripolitis 2002: 93.
  45. Von Harnack 1980 vol 1: 101
  46. Von Campenhausen 1977: 24,30-31.
  47. Tripolitis 2002: 94; Von Campenhausen 1977: 36; Barnett 2005:55.