Christina Landman

To
Home Page


Gee my ‘n kerk wat ‘n brug kan bou

Die Beeld, 22 Januarie 2007

“I have a dream”, het Martin Luther King gesê, en daarmee vir ons almal die deur oopgemaak om oor ons samelewing te droom.

Ek wil graag oor die kerke droom. En dat hulle hierdie jaar brûe sal bou. En nie skanse sal oprig nie. Dat hulle vooruit sal loop en die samelewing met mekaar sal versoen.

Die eerste brug wat die kerke moet bou, is tussen die grondwet en gelowiges. En eintlik weet ek nie hoekom Christene bang is vir die grondwet met sy menseregte nie. As daar nou iemand was wat uitgeblink het om vir mense waarde te gee, dan was dit Jesus – wat mense aangeraak en kos gegee en ernstig vir hulle omgegee het. Dis die Piëtisme wat later gekom het, wat ons kom vertel het mense is wurms en paddas. Dis nie wat Jesus mense kom vertel het nie.

Tweedens moet die kerke ‘n brug bou tussen gelowiges wat bang is, en die mense vir wie hulle bang is, soos vroue en gays en wieookal. Die kerk moet tog eintlik op die voorpunt staan om plek te maak vir almal. Om te wys hoe lyk ‘n plek waar godsdiens en menswaardigheid suksesvol geïntegreer is.

Derdens moet die kerke ‘n veilige spasie kan skep vir mense wat die tradisionele “melaatses” van die samelewing is. Dis nou hulle wat aborsies gehad het, en geskei is, en gay is, en in die tronk was, sekswerkers was. Die kerke moet hierdie mense ontduiwel, en hulle pyn en vreugde ook in die kerkdiens kan “beliggaam”. Soos om ‘n liturgie te hê vir mense wat vigs het. En om te preek oor die pyn van ‘n aborsie of ‘n egskeiding of ‘n bankrotskap.

Eintlik is dit die kerke se werk om “communities of care” te stig vir almal wat voorheen as “immoreel” beskou is, soos vigslyers, gays, en mense wat op ‘n aborsie moes besluit. As Jesus oopkop kon wees oor mense wat swaarkry en anders moes lewe, hoekom nie ons ook nie?

En die kerke het nodig om nuwe teologieë te skryf. Die óú teologie wat net daarop bly hamer dat verlossing iets is waarop jou siel moet besluit, en dan is alles reg – nouja, so ‘n teologie kan ons nie meer deur die lewe en sy krisisse dra nie.

Ons soek ‘n Teologie van die Liggaam, want in die sentrum van alles wat vandag met ons gebeur, staan ons met ons brose liggame. Die geweld in intieme verhoudings, kapings, MIV-infeksie, verkragting, armoede, werkloosheid – in dit alles staan ons met ons liggame, terwyl ons net altyd moet hoor dat die siel alleen sal oorwin. Nee, ons soek ‘n teologie wat ons help om met gesonde liggame uit hierdie geweld op te staan. Soos Jesus gedoen het, as ek mag sê.

En ons soek ‘n Teologie van die Slaapkamer, met dié dat dit nou statisties bewys is dat die huwelik, soos hy nou daar uitsien, die gevaarlikste plek is vir ‘n mens om hom- of haarself in te bevind. Dis in ‘n huwelik waar ‘n mens die maklikste MIV-infeksie opdoen, en die grootste gevaar staan om aangerand te word. Ag nee, en dit in die spasie waar ‘n mens eintlik die lekker van die lewe moet voel. En dis die kerk wat ‘n brug moet bou na huwelike toe waar mense sowel pret as respek sal hê.

En ek hoop dat in 2007 die kerke self sal opstaan teen teoloë wat dinge vir gelowiges pienk en saggies ingee. Om gelowig te wees in ‘n post-moderne en post-patriargale samelewing is moeilik. Die kerke moet ons eerder help om ‘n brug te bou tussen ons geloof en ons alledaagse lewe – en teoloë wegpak wat sagte skanse met maklike antwoorde om ons wil bou. Weg met die populistiese teologie: gee vir ons ‘n teologie wat ons sterk maak in ons lewe vandag, en wat nie ons intelligensie onderskat nie. Gee vir ons ‘n teologie wat ‘n ordentlike brug bou tussen kerk en wêreld, ervaring en rede, die Bybel as feite en die Bybel as verhale, eenheid en veelheid, plaaslikheid en globaliteit. Op die oomblik, helaas, maak die kerke eerder die afgrond groter tussen geloof en intellek, tussen immanensie en transendensie.

Gee vir ons kerke wat brûe bou tussen die ou Suid-Afrika en die nuwe Suid-Afrika. Tussen Suid-Afrika en die res van Afrika. Tussen ons verlede van pyn, en ons toekoms van hoop.

En nouja, sal dit nie wonderlik wees as, in die jaar ‘007, die kerke voor sal loop en brugbouers sal wees nie? In plaas daarvan dat hulle, soos Ferdinand Deist gesê het, moeg en uitasem aankom wanneer die samelewing al lankal ‘n skuif vorentoe moes maak, en die kerk nie daar was om hulle hand te vat nie.