Professor Christina Landman

Na
Tuisblad


Kort CV
(Afrikaans)

Christina Landman het in 1973 aan die Hoërskool Lyttelton in Centurion met vyf onderskeidings gematrikuleer. Sy was een van die eerste geslag vroue wat direk na skool Teologie gaan studeer het. Sy het uiteindelik aan die Universiteite van Pretoria en Suid-Afrika 7 grade behaal in Antieke Tale en Teologie, waarvan twee doktorsgrade is. Haar eerste doktorsgraad is in Kerkgeskiedenis oor die verhouding tussen staat en kerk in die Middeleeue, en die tweede in Praktiese Teologie oor narratiewe berading in “township”-kontekste. Sy het verskeie boeke geskryf, waarvan 10 vir die populêre mark is, en is die afgelope 20 jaar ‘n rubriekskrywer vir die dagkoerant Beeld. Sy is mede-skrywer en eindredakteur van Die LeefstylBybel vir vroue wat in 2004 die Christelike Boekhandelaars van Suid-Afrika se Boek-van-die-Jaar-Prys gewen het. In 2005 het Unisa haar aangewys as die “Mees gepubliseerde vrou” aan Unisa, dit is, sy was die vrou wat die meeste akademiese en geakkrediteerde werke in die vorige drie jaar gepubliseer het. Sy doseer die afgelope 34 jaar Teologie aan Unisa en is tans verbonde aan die Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie aldaar. Sy is op 18 Mei 2008 georden in die Verenigende Gereformeerde Kerk Dullstroom, 28 jaar na die voltooiing van haar teologiese studies. Vir ontspanning speel sy kerkorrel, doen “race walking” en kyk komedies op die televisie. Haar seun, Derek, is 22 jaar oud.


----ooooOoooo----