Christina Landman

To
Home Page


Kan die kerke vroue gesond maak?

Die Beeld, Saterdag, 29 Desember 2007

Die afgelope sewe jaar het ek een dag ‘n week as ‘n vrywillige berader by ‘n staatshospitaal gewerk.

Dit was ‘n reis na die die sentrum van menslike ellende – en ook na die hart van godsdiens, na hoe geloof siek kan maak, en hoe dit kan genees. Ek het gewerk by primêre gesondheidsorg, waarheen die arm mense gaan vir gratis mediese diens.

En wanneer die dokter nie ‘n “mediese” rede kon kry waarom die persoon siek is nie, is hy of sy vir berading verwys. So vind ek my toe temidde van mense wat nie regtig siek is nie. Oftewel, dis nie ‘n virus of ‘n bakterie wat hulle siek maak nie.

En tog is hulle siek. ‘n Derde van hulle het al meer as eenmaal probeer selfmoord pleeg. Party sit in rolstoele, te depressief om op te staan. ‘n Meerderheid ly aan ‘n diep depressie, wat hulle liggame oorneem.

En vir dié van ons wat gedink het arm mense is eintlik maar altyd dom en vrolik, wag daar ‘n verrassing. Armoede het ‘n geweldige effek op ‘n mens se geestesgesondheid. En hierdie mense is ook nie arm omdat hulle dom is nie: Dis ‘n spiraal van armoede en kansloosheid waaruit mense nie kan kom nie.

Wat maak mense wat veronderstel is om gesond te wees, so siek? Armoede is een. En siek verhoudings is nog een. Mense maak mekaar siek met hulle ontrouheid, misplaaste selfsug en woorde wat seermaak. ‘n Vrou wat byvoorbeeld uitgevind het haar man het ‘n buite-egtelike verhouding, het van haar middel af ondertoe eenvoudig lam geword. Ook sy sit in ‘n rystoel en kan nie opstaan nie.

En dan is daar nog ‘n ding wat mense siek maak. En waaraan ons veral moet dink met vakansietye. Eensaamheid. Eensaamheid laat mense slegte dinge aan hulleself doen. Dit laat hulle siek verhoudings aanknoop. Dit laat hulle seks hê met iemand terwyl die MI-virus oopoë lê en loer. Hulle verduur geweld in ‘n verhouding, net om nie alleen te wees nie. En dit bring my by die vroue. Omtrent twee-derdes van die pasiënte hier was vroue, die meeste swart, maar so ‘n kwart was wit. ‘n Meerderheid is aangerand deur ‘n intieme maat, of is verkrag. So, weer eens is dit nie ‘n organiese disfunksie wat hulle siek maak nie, maar ‘n orgaan van ‘n ander aard. En nou is die ding dit: al hierdie vroue behoort aan ‘n kerk. Aktief. Hulle is voordansers, voorsingers, of voorbaksters. En nou vra ek: Hoekom kan die kerke hierdie vroue nie gesond maak nie?

Eerder, het dit in berading uitgekom, maak die kerke die vroue siek. ‘n Meerderheid vroue het gesê dat, nadat hulle aangerand is, die pastoor of priester gesê het hulle moet dit so aanvaar, God het mans maar so gemaak. Of hulle moet die man kalm hou en hom nie uittart nie, sodat die gesin heel kan bly. Of dat God haar vir een of ander rede straf, wat sy geheim probeer hou. Of die dominee glo haar gewoon nie dat sy aangerand is, of dat haar nuwe man haar kind uit ‘n vorige huwelik verkrag nie.

En dan is die armoede natuurlik nog altyd daar om die vroue op hulle plek te hou. ‘n Vrou kry haar kêrel dat hy saam met ‘n hond slaap, maar sy hou maar haar mond want hy gee vir haar kos en blyplek.

Dis natuurlik nie net arm vroue wat geweld moet vat om ‘n blyplek in ‘n verhouding te hê nie. Ek het buite die hospitaal met baie middelklas-vroue te doen gekry. En ook hulle vat die slae om die patriargale gesin in stand te hou. Want hulle glo dis hoe God die gesin gemaak het.

En dit bring ons by vroue se intieme ruimtes. Die landswette het vroue al op politieke en ekonomiese vlak bevry. Maar in vroue se intieme verhoudings – daar heers die goddelike wet nog.

Oftewel, wat die kerke as goddelike wet voorhou. En die goddelike wet sê glo die man is baas van al die lywe in die gesin om hulle na goeddunke te straf. En eintlik behoort dit die kerke te wees wat mense moet leer dat ons ander soort gesinne nodig het. Ons het ‘n gesin nodig waarin die man en vrou ‘n gelyke aanvoeling het vir mekaar se behoeftes. En waar die een nie probeer belangrik wees deur die ander te verkleineer nie.

Suid-Afrikaanse vroue ly aan “identities of failure”. Alhoewel hulle die ekonomie dra en sommige van hulle hoë poste beklee, voel hulle dat hulle in hulle intieme ruimtes faal waar vrouwees nog steeds gedefinieer word deur onderdanigheid, opruim agter ander, en volmaak mooi wees. Sy moet die woede van die man met sagte vroulikheid kan vat.

Maar hoekom is mans so kwaad? Waarskynlik omdat hulleself baie pyn het. Te min geld, te min erkenning, en nou ook nog vroue wat beter as hulle wil wees, maak mans kwaad.

By die hospitaal het ek dikwels vir mans briewe geskryf wanneer hulle vroue aangerand deur woorde of vuiste daar aangekom het. Dis was nie ‘n brief om te sê: “Haai, jou swernoot, bring jou jammerlike agterent hierheen dat ons dit kan skop nie.” Nee, dit was ‘n brief wat gesê het: Jou vrou sê dat jy vir haar baie belangrik is; kom neem deel aan ons gesprekke sodat jou vrou en julle verhouding weer gesond kan word.” En weet julle wat? Meeste van die tyd het die mans gekom. En kon ons manwees en vrouwees en saamwees nuwe definisies gegee. En het die paartjie ‘n gesonder pad saam begin stap.

In flieks soos “As it is in heaven” kry ons deesdae ‘n heeltemalle nuwe definisie van manwees. Mans kan hulleself bevry om sensitief en in voeling met hulle eie gevoelens te wees – en om balans met vroue te vind. In dieselfde fliek is die dominee ‘n gek wat leer dat manwees is om te oorheers en te beheers, en om nooit jou hart vir ‘n vrou te wys nie.

In Suid-Afrika gaan mans en vroue nog in groot getalle kerk toe. Die hoofstroomkerke het die afgelope 5 jaar 26% van hulle lidmate verloor. Maar die Christendom het inteendeel gegroei. Want die mense gaan na kerke toe waar hulle een of ander vorm van genesing kry.

Kerke in Suid-Afrika bied drie soorte genesing aan. Daar is diakonale genesing, soos om sopkombuise te hou en kospakkies uit te deel. Die Rooms-Katolieke Kerk doen dit in die townships, en is daarom die enigste hoofstroom kerk wat tans groei.

Tweedens is daar ook geloofsgenesing, soos wat die charismatiese kerke dit aanbied waar jy net op grond van jou geloof gesond moet word. En derdens is daar rituele genesing, soos in die Afrika Onafhanklike Kerke waar Afrika-rites die Christendom by die Weste afgevat het, en tradisionele praktyke deel vorm van die genesing van ‘n persoon.

En tog kan die kerke dit nie regkry om mense in hulle intieme verhoudings gesond te maak nie. Nog vier huishoudelike geweld, verkragtings en die verspreiding van MIV hoogty in die land. En dit omdat kerke vasklou aan die patriargale mag van “die man”.

Ek sou sê dis tyd dat die kerke begin om mense te genees – deur hulle gesonde dinge te leer van manwees en vrouwees en saamwees. Dat verhoudings gaan oor vertroue, en die beste in mekaar uitbring, en vir mekaar ‘n veilige ruimte te skep om mekaar te geniet.

Daar word op die oomblik geen “gender justice” in kerke in Suid-Afrika beoefen nie. En daar is ook geen druk op hulle om dit te doen nie. Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte vir Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe lê nou ‘n dokument ter tafel waarin godsdiensregte beskryf word – en daarin word godsdienstige gemeenskappe kwytgeskeld om “gender justice” te beoefen.

Maar wat sou kerke kon doen dat mense in hulle verhoudings gesond kon word? Eerstens sou ek sê dat kerke leke-beraders in hulle midde moet oplei – oftewel laat oplei – wat sensitief is vir geslagsrolle wat siek maak, en geslagsrolle wat mense in hulle verhoudings gesond kan maak. ‘n Mens sou beradingsentrums in gemeentes wou sien waar mense hulp kan kry om sterk te word in hulle verhoudings, eerder as dat hulle – in God se naam – teruggedruk word in rolle waar mag en oorheersing en vernedering die hoofrolle speel.

Tweedens kan kerke gerus met ‘n paar vennootskaps-teologieë vorendag kom wat brûe tussen mans en vroue bou – en tussen die verwagtinge wat hulle van mekaar het.

Sestien dae van aktivisme help maar min. Landswette wat gelykheid tussen mans en vroue afdwing, kan die oppervlakte van die samelewing verander.

Maar ons het nodig om die persepsies van mense oor manwees en vrouewees in die diepte-struktuur van die samelewing te verander. En in Suid-Afrika waar die kerke so sterk is, is dit hulle werk om dit te doen. Die kerke (en ander godsdienstige gemeenskappe) moet verantwoordelikheid vat vir wat die mense in die land oor manwees en vrouwees en saamwees glo. Hulle moet verantwoordelikheid vat om mense te leer dat wedersydse respek, gelykheid en genot die basis van ‘n goeie verhouding is.

Nou, dít is goddelike reg. En dít is gesond. Glo my dat ek dit by letterlik duisende mense by die hospitaal gesien het. Dat “gelyke liefde” mense in hulle verhoudings gesond maak. Dit maak jou gesond om te glo dat God jou geskape het om, op ‘n regverdige manier, sowel liefde te gee as te ontvang.

As ons dié idée in mense se koppe inprent, word kerke dalk net plekke van genesing. Wat hulle nie nou is nie.


oooo000oooo