Christina Landman

To
Home Page


Die kerke moet mense vrymaak om moreel te wees

Die Beeld, Maandag, 14 April 2008

Not all of us are free to be moral, lui die gesegde. Dit laat ‘n mens wonder. Hoe baie mense doen MIV op omdat hulle nie vry is om ‘n morele besluit te neem nie. Miskien is hulle eensaam. Miskien probeer hulle om iemand se liefde met seks terug te wen.

Miskien is seks die enigste ding wat hulle nog menslik kan laat voel wanneer armoede hulle van als gestroop het. Of miskien laat hulle tradisie hulle glo dat ‘n vrou nie ‘n seksmaat mag weier nie.

Miskien sê hulle kerk kondome is sonde.

Eensaamheid. Verwerping. Armoede. Seksuele magteloosheid.

En dom gelowe. Dis dinge wat ‘n mens so vasgevang hou, dat jy nie vry is om moreel te lewe nie.

Nou die dag kry ek die kans om plaaswerkers te vra waarom hulle dink ‘n mens MIV-positief word.

Ek dog toe, hierdie mense is seker van alle mense op aarde die minste vry om moreel te wees. Armoede, trekarbeid, sonder jou familie wees vir lank, niks het om te doen na ure nie. Dis alles dinge wat hierdie mense tog onvry maak om ‘n morele besluit te neem. Dis dié dat plaaslike studies bewys dat ten minste een uit elke drie plaaswerkers MIV-positief is.

Ek dog toe die plaaswerkers sou vir my sê, die lewe is tog so swaar, en seks is al wat gratis is. Ons gesinne is nie altyd by ons nie. Oftewel, ons is nie vry om moreel te wees nie. Maar nee, hulle gee vir my almal morele antwoorde. Hulle sê ‘n mens word MIV-positief omdat jy nie leef soos God wil hê nie.

My eerste vraag aan ‘n plaaswerkers was dan: Wat dink jy veroorsaak MIV: Is dit God se straf, is dit satan, of is dit ‘n virus? Na 40 onderhoude, onafhanklik van mekaar, het almal geantwoord: MIV is God se straf vir mense wat rondslaap. God maak nie ‘n mens siek nie. Satan maak jou siek, maar God werk deur die Satan om jou met MIV te straf. Nie een van die ondervraagdes het gesê dat MIV deur ‘n virus veroorsaak word nie.

My volgende vraag was dan natuurlik: Maar kan God jou dan gesondmaak van MIV? Kan jy jou sonde bely, en genees word? En weer het die antwoord gekom, dieselfde uit 40 monde: Ja, ek glo God kan MIV genees, as jy glo, en die pastoor bid vir jou en lê jou die hande op.

So was dit dan tyd om ‘n kontrole-vraag te vra: net om te sien of mense nie antwoord wat hulle dink jy wil hoor nie. Ek vra toe: Wanneer jy siek word, gaan jy na die kliniek, na die sangoma, of na die pastoor? Die morele antwoord sou wees om te sê dat jy na die pastoor toe gaan, en die meerderheid het ook so gesê. Maar hulle het daarby gesê: Ons het nie ‘n ander keuse nie. Die klinieke is ver en het gewoonlik nie medisyne nie. Die sangoma is duur. As ons die pastoor se pad loop, dan sê hy ons het gesond geword.

Dit het gou duidelik geword dat die plaaswerkers nie na die groot kerke toe gaan waar almal kan sien hoe word jy van MIV genees nie. Die 40 ondervraagdes het aan 23 verskillende kerkies behoort. In elke klein plaasgemeenskappie skiet daar ‘n genesingskerkie op. Dis waarheen die plaaswerkers gaan vir genesing. En dis waar ek gesien het hoe word ‘n enema op ‘n persoon gedoen wat reeds diarree het. Hoe word iemand beveel om vir twee weke te vas wanneer sy liggaam juis gesonde kos nodig het. Daar gooi baie siek mense liters Joko-tee en FG-koffie op - uit mage wat eerder sou kon doen met kos wat binne bly.

Maar ‘n mens het ook mooi goed by hierdie kerkies gesien: hoe hulle rituele met mekaar dans. Hoe hulle gesondheid vier. Hoe hulle ongekunsteld glo. Hoe hulle hulle geloof met hulle alledaagse lewe en probleme integreer. Gladnie soos ons wat na megakerke gaan en God op ‘n kunsmatige manier by al ons besluite probeer betrek nie – selfs die besluit om Perth toe te gaan of nie.

Ja, wat ons nie alles sal doen net om ‘n spirituele lewe te hê nie – terwyl geloof by hierdie mense deel van ‘n lewe van swaarkry en verlossing is.

My laaste vraag aan die plaaswerkers was: Maar wat dink jy kan die kerk doen om mense sterk te maak teen MIV? En dan het die morele antwoord weer gekom: Die kerk moet mense leer om nie rond te slaap nie. Hulle moet vir die mense vertel kondome laat jou net meer sonde doen, en dat God jou daarvoor sal straf. ‘n Kondoom is ‘n aborsie.

En dit het my laat wonder of baie kerke mense nie juis onvry maak om moreel te wees nie. Eerder as om oor kondome te redekawel en gimmieks te gebruik om mense te genees, moet die kerke mense respek leer vir mekaar se liggame, en hoe ons mekaar se armoede en eensaamheid kan verlig. Die kerke moet met ‘n sagte oog raaksien dat mense weerloos is wanneer dit by hulle seksuele behoeftes kom. En dat die kerk hulle juis kan leer om sterk te wees, sonder om heeltyd alles net sonde te noem. En as die kerke vroue leer om onderdanig met hulle liggame te wees, hoe kan hulle ‘n morele besluit neem teen MIV? En as die kultuur vir ‘n man sê: ‘n Ware man is soos ‘n olifant, hy eet nie net van een boom nie – wie gaan keer dat MIV versprei?

Ek dink ook kerke moet met klinieke saamwerk dat medisyne hulle genesende rol onder gelowiges kan speel. Eerder as om onkunde te versterk, kan kerke plekke word waarvandaan gesonde inligting in die samelewing versprei word. Immers behoort elke mens tog te weet wat ‘n virus is, en hoe hy sy pad in jou liggaam in vind.

Laastens, dink ek dat juis die kerke ‘n rewolusie aan die gang moet sit teen kulturele en godsdienstige gelowe wat ons dom dinge laat doen. Kerke moet nooit hulle rites en rituele, die hoop wat geloof bring, en hulle healing talk verloor nie. Maar iewers moet die kerke self begin opstaan teen die ongesonde dinge wat bygeloof ons laat doen, soos om met ‘n maagd te slaap vir genesing, of iemand in die naam van Jesus met skoonmaakmiddels in te spuit om sy bloed skoon te maak van MIV.

Iewers tussen pre-historiese rites en bonatuurlike hoop aan die een kant, en gesonde verstand en wetenskaplike kennis aan die ander kant – dit is waar die kerke ‘n genesende posisie in die stryd teen MIV kan inneem.

So kan die kerke hoop doen. Hoop is immers ‘n werkwoord. En genesing ook. En onkunde


oooo000oooo