Christina Landman

To
Home Page


Manne, kreukel julle dasse vir Vrouedag

Die Beeld, Maandag, 6 Augustus 2007

Met Vrouedag om die draai, sit ek nou die dag in ‘n vergadering. Oorkant my sit ‘n man met ‘n gekreukelde das. Dis nou nie van slordigheid dat die das so lyk nie. Nee, die material is aspris gekreukel.

Ek vra toe vir die man, vir wat dra hy ‘n gekreukelde das. Hy sê nee, dis uit simpatie met vroue wat deur die samelewing gestraf word wanneer hulle volwaardige mense wil wees. ‘n Das was altyd die simbool van oorheersing en roede. Dis dié dat hy nou syne gekreukel dra, sê die man.

Nou, dit het my laat dink. Ek doen toe ‘n bietjie navorsing, en kontak die vroue wat noual by my studeer het in vroue-teologie. Ek vra hulle of hulle voel die samelewing straf hulle. En ek was nogal geskok. Want hulle sê toe almal min of meer dieselfde ding: mans isoleer hulle. Hulle vereensaam. Vroue het dalk mag in die parlement en in die werksplek, maar hulle het nog geen mag in die kerk nie, en ook nie om intieme verhoudings aan te knoop nie. Dis wat hierdie vroue toe sê.

Die een vrou vertel dat sy nou ‘n goeie pos aan ‘n tersiêre inrigting het. Een aand is sy in haar woonstel beroof. Die rower het Afrikaans gepraat. Hy is later gevang, en toe het sy vir hom in die tronk gaan kuier. En op hom verlief geraak. Hulle beplan nou om te trou wanneer hy uit die tronk kom. Ten minste het sy die mag om met ‘n man in die tronk ‘n verhouding aan te knoop, want hy is daar heeltemal magteloos, sê sy. En dis ook beter vir haar as om so geïsoleerd te lewe, sê sy.

‘n Ander een vertel dat haar doktorsgraad in vroue-teologie mans heeltemal afskrik. Sy het toe op die internet begin soek na ‘n man, en haar kwalifikasies geheim gehou. Sy is binne ‘n maand getroud. Hy het nou haar passievolle kant leer ken, en haar kwalifikasies en werk is uiteindelik nie vir hom ‘n probleem nie sê sy.

En dit het my nou laat wonder waarom mans vir goed gekwalifiseerde beroepsvroue skrik, spesifiek vir vroue met teologiese opleiding. Ons hou dan juis in ons teologiese opleiding aan vroue die waardes van Bybelse vroue voor, wat passievol, aards en versorgend was. Teologie-vroue is vroue wat nie ‘n fiksasie op die dood het (soos sommige ander teoloë) nie, maar op die lewe. En dit klink dan nou juis vir my na ‘n lekker soort vrou om by te wees.

Dis dié dat ek ‘n paar mans gevra het waarom hulle skrik vir vroue wat vir die kerk en die teologie werk.

Die een sê hy het eenkeer met so ‘n meisie uitgegaan, maar dit het vir hom gevoel sy “sluk hom in”. Hoe ontspan ‘n mens nou met ‘n meisie wat alles weet van wat op die aarde en in die hemel aangaan? vra hy.

‘n Ander man sê hy sal nooit met ‘n geleerde vrou uitgaan nie – veral nie een wat alles van God en mens weet nie – omdat dit bewys is dat geleerde ma’s se seuns hulle verwerp en ‘n minderwaardigheidskompleks kry.

Nou, van daardie navorsing weet ek niks, maar ek weet wel van navorsing wat bewys het dat verhoudings waarin die man en die vrou gelyke mag het, uiteindelik die gelukkigste is.

En navorsing het ook bewys dat vroue-predikante hier en elders in die wêreld ‘n gesonde uitwerking op die kerk het. Vroue maak die kerk mensliker en pastoraler; hulle bring simboliek terug in die kerk wat die lewe vier; hulle bevorder deelname van die gemeente aan die erediens; en met hulle berading voeg hulle waarde toe tot die lewens van mense wat swaarkry, omdat hulleself “wounded healers” is.

Dis nou dié dat ek wil vra of daar nie meer mans is wat op Vrouedag ‘n gekreukelde das wil dra nie. Dat hulle so hande kan vat met vroue wat in die kerk ‘n rol moet speel, maar uitgesluit word. En dat hulle sal help om verouderde persepsies oor vroue wat vir die kerk werk, af te breek. Dat vroue in die kerk en teologie “normale” verskynsels sal word, eerder as ‘n randverskynsel.

Regtig hoef vroue nie hierdie isolasie van vroue alleen te oorkom nie. Hulle het nodig dat mans hierdie pad saam met hulle sal stap. En dis waarvoor Vrouedag daar is: dat vroue en mans saam sal padvat, oppad na ‘n gesonde toekoms vir die kerk en samelewing.


oooo000oooo