Christina Landman

To
Home Page


Die lewe is 'n lied

Die Beeld, 20 Maart 2007

    Sestig jaar gelede het die dominees die volk gelei, soos DF Malan. Na hom was dit die beroepspolitici, wat allerhande kopvisioene gehad het wat nie gewerk het nie, soos Verwoerd. En toe was dit die militariste wat die mislukte drome in stand moes hou, soos PW Botha.

    En nou is dit die popsangers.

    Ergste van alles is dat dominees besig om liedjies oor Blou Bulle, Leeulope en Boeregeneraals in godsdienstige woorde oor te vertaal. En daaroor het ek ‘n paar beswaartjies, as julle by my sal bly.

    Eerstens skrik ek vir die waardes wat hierdie popliedjies die godsiens ingedra. Want waarop berus die liedjies? Dis amper te grusaam om te noem. Bierbekers, ek-is-die-baas-van-my-blaas-my-vrou-en-my-swarte, en die boere-hemel. Seksisme, rassisme en volksisme word nou weer die bron waaruit ons ons geestelikheid put. En al is die kerkliedjie hóé ge”recycle” in godsdienstige woorde, dra hulle tog al die bagasie saam wat die oorspronklike liedjie gewild gemaak het.

    Tweedens dink ek die liedjies gebruik God se naam ydellik. Dit maak jou eintlik siek om te dink dat God se naam uitruilbaar geword het met ‘n bul, ‘n jagse leeu, en ‘n boer-met-‘n-roer. Terwyl ons vroue-teoloë probeer om die huidige geestelike liedereskat skoon te maak van verwysings na God as ‘n patriarg, laat hierdie liedjies God die kerk binnemarsjeer op ‘n perd met ‘n roer wat almal weer die ou orde gaan kom inskiet. Toe vroue en swartes nog hulle plek geken het.

    Dis wonderlik dat my gewaardeerde vriend Jannie Pelser veg daarvoor dat God se naam nie in die media respekloos gebruik word nie. Maar is dit nie nog erger as God se naam ydellik gebruik word om popliedjies te omskep in kerkliedjies nie? Is dit nie die ydellikste gebruik van God se naam ooit om God vir ‘n spesifieke volk te annekseer nie?

    As ‘n kerk byvoorbeeld besluit om ‘n “Volkskerk” te bly, onder watter liedjie gaan hy uitmarsjeer? Die osse stap aan deur die stowwe?

    En derdens wonder ek waar hou wêrelds op, en waar begin heilig. Nou die dag nog het ons gekla dat die Da Vinci Code heilige simbole gevat het en daarvan ‘n wêreldse storie gemaak het. Maar nou doen ons dit ook: ons vat wêreldse liedjies, en gee hulle heilige inhoude. Dis mos dieselfde ding, net verkeer in ‘n ander rigting.

    Dankie julle popsangers vir wat julle doen, maar ek dink tog ons het leiers nodig het wat verby refreine kan beweeg.

    Kom ons bly by die kerk en vra: Watse leiers, dan, het Afrikaanssprekende kerke vandag nodig?

    Eerstens dink ek ‘n kerkleier moet jong stemme kan verstaan. Dit het ons mos nou uit die popliedjie-sage geleer: Die jeug se stemme moet gehoor word, en tereg ook. Maar ‘n kerkleier sou die stemme tog die toekoms wil inlei, en nie vasgevang hou in die geromantiseerde verlede nie. Immers is die jeug die brugbouers van die toekoms. Die kerk moet hulle tog nie help om hulleself te isoleer nie. Ek kom dikwels in gemeentes waar daar absoluut niks vir of met jongmense gedoen word nie. Nee, die kerk kan tog nie bekostig om sy De-la-Rey-generasie te verloor nie. En ook nie om hulle aan die verlede af te staan nie.

    Tweedens moet ‘n kerkleier nie net kan aandag gee aan opkomende stemme nie, maar ook aan die stemloses. Die dekriminalisering van prostitute is byvoorbeeld nou op die tafel (en die meeste van hulle is baie jonk). Gaan ons maar net ons sin, soul and salvation-refrein op hulle gooi, of gaan die kerk probeer om die spirituele behoeftes van prostitute (en ander stemloses) te verstaan?

    Derdens sou ek van ‘n kerkleier verwag om mense uit hulle seksistiese en patriargale denke te lei. En as ek mag sê, gaan die kerk dit nie regkry deur Blou Bul, Leeuloop en De la Rey in godsdiens oor te vertaal nie.

    Laastens moet ‘n kerkleier moraliteit verstaan en leiding kan gee in hoe mense gesond kan lewe. ‘n Kerkleier moet weet watter geestelike waardes die samelewing gesond kan maak, en watter soort “geestelikheid” die samelewing siek maak.

    En ek dink die verchristeliking van volksistiese, seksistiese en banale liedjies gaan ons beslis nie gesond maak nie.

    Miskien kry ons eendag weer dominees wat brûe tussen mense kan bou. Eerder as om hulle terug te lei na die ou orde. Dan sal dominees die volk weer ‘n bietjie kan lei – net op ‘n gesonder pad as 60 jaar gelede.