Christina Landman

To
Home Page


Waarheen dans die kerke en die politiek nou so saam-saam?

Die Beeld, Maandag, 27 April 2009

Twee manne het nou weer onlangs kerkmense laat dans: Jacob (Zuma) en Angus (Buchan). Altwee se name het vyf letters. Soos Moses. En, toevallig, Jesus.

Ek was bly toe ek sien daar is Jacob Zuma in die kerk. Ek dink nie hy misbruik die kerk nie. Ek dink hy gee met sy saam-dans die kerke weer mag. Hy gee hulle weer ‘n stem. Hy maak hulle sterk om weer in die openbaar te praat.

En Angus ook. Ek hoor sy manne-praatjies is maar ‘n bietjie boers, soos dit ‘n aartappelboer betaam. Ek het hom nog nie self daar tussen die manne gehoor nie. Want die Mighty Men is soos die manstoilet, ons vroue kan nie daar in nie. Maar ek het met ‘n paar van die manne wat al Mighty Men was gepraat, en hulle sê hulle gaan nie soontoe om te hoor hoe om vroue te onderdruk nie. Hulle gaan soontoe om te voel gelowiges maak weer saak. Hulle gaan om te hoor gelowiges kan ‘n verskil maak. En hulle gaan om te hoor dat dit alles by hulleself moet begin. En dat hulle saam van die land ‘n beter plek kan maak. En dis tog wonderlik, dink ek, dat gelowiges nou weer “public” gaan. Ek weet nie waarom die manne dit nou so eenkant op hulle eie hoef te doen nie. Maar ons vroue se lywe is skynbaar so magtig dat dit die manne se aandag aftrek. Maar, die manne wat so saamdans vir ‘n beter wêreld, en self verantwoordelikheid daarvoor wil vat – dis tog iets wat ‘n mens kan vier. Toe ek jonk was, was dans sonde. En dans in die kerk was ondenkbaar. Iemand het eenkeer die grappie vertel van die Dopperdominee wat vir die jongklomp gesê het hulle moet nie seks hê nie, want dit lei tot dans. Maar dit was natuurlik sommer ‘n grappie. Nou het dans ernstige dinge geword. Dans in die kerk het polities geword. Manne wat so saamkom om godsdiens weer ‘n openbare faktor te maak, en kerke wat politieke leiers nooi om saam te dans... dis ‘n goeie ding. Want dit wys die kerke het weer mag. En ‘n stem. Ek wil maar net vra: Wat gaan die kerke nou met hulle mag maak?

Want soos ons weet, kan kerk en politiek saamdans - en dan kan dit ook maar ‘n gemors afgee. Soos toe die NGKerk en die Nasionale Party saamgedans het, en toe het dit apartheid afgegee. En vandag moet ons bely dit was maar ‘n tragedie. Ons hou ons nou so onskuldig, maar eintlik is politiek openlik van NGkansels af gepreek tot so die vroeë 1960s. Toe begin die NGkerk sy kansels van die politiek te suiwer. Maar dit was maar net deel van ‘n ortodokse suiwerheidsaanval in die algemeen. Die kansels is van alles gesuiwer, behalwe om die teks van die Bybel emosieloos oor te vertel. In hierdie tyd het die NGKerk ook van die Halleluja-boek ontslae geraak omdat die liedjies daarin te vol vrome emosie was. En dit was in elk geval toe nie meer nodig om die kansel vir politiek te gebruik nie, omdat die Nasionale Party toe stewig genoeg in die saal gesit het. Wat Zuma in die kerk doen, is niks nuuts nie. Hy volg in die voetspore van groot en magtige ANC-leiers voor hom. Vat nou maar vir Albert Luthuli. Vir ons wat ‘n bietjie agter is met die geskiedenis, net dit oor Luthuli (1898-1967). Luthuli was die President van die ANC in gevaarlike tye, van 1952 tot met sy onnatuurlike dood in 1967, toe hy dood op ‘n treinspoor gekry is. En hy was ‘n Zoeloe Inkosi, ‘n tradisionele Chief. Luthuli was egter ook ‘n leke-prediker in die Congregational Church. Vir hom was die vryheidstryd ‘n Christelike pelgrimstog. Luthuli het gestaan vir die menswaardigheid van alle mense, omdat God nie ‘n fout gemaak het toe hy ons in verskillende kleure en geslagte gemaak het nie. Luthuli was dan ook vir die bemagtiging van vroue, daai tyd al. En Luthuli was teen geweld. Ja, sowaar, Luthuli was glo teen die vorming van die MK. En wat meer is – hier kom dit – Luthuli is genoem die Black Christ.

En nou kan ons weer vra: As die kerke nou ‘n openbare pad met die politiek gaan begin stap, wat gaan hulle met die nuwe mag maak, wat eintlik óú mag is wat weer herstel is?

Ek sou hoop dat hierdie nuwe-ou mag deur twee dinge gerig sal wees. Die een is Luthuli se insig dat die kerk en die staat mekaar met hierdie soort mag moet help: om mense menswaardig te maak. En om dit op ‘n nie-gewelddadige manier te doen.

En die tweede is dat mag altyd self-krities moet wees. Jy moet altyd ‘n ogie hou oor hoe jyself mag gebruik. Ek was beïndruk met ‘n groep vroue wat ek nou die dag ontmoet het, wat gereeld by mekaar kom om te bespreek wat hulle met hulle nuutgevonde mag doen. Gebruik hulle dit om die samelewing heel te maak, of om hulleself te bevoordeel en op ander te trap?

Ons is noual deur die MK, en by die MMK, die Magtige Man Konferensie. Hoop ons sien weer ‘n ander MMK een van die dae, ‘n Magtige Mens Konferensie – waar “mag” beteken om mense te bemagtig vir goeie, lewe-gewende en wyse waardes.


oooo000oooo