Christina Landman

To
Home Page


'n Sinode wat die demone gaan uitdryf

Die Beeld, Maandag, 4 Junie 2007

Die NGKerk is broos. Hulle het sedert die vorige sinode ‘n beraamde 26% van hulle lidmate verloor. En hulle het nie leiers nie. Die 13de Algemene Sinode vind hierdie week (4-8 Junie) plaas. En ‘n nuwe moderator moet gekies word.

Wat gaan hierdie week gebeur? Gaan die NGKerk terugval op die verlede, en agtertoe hervorm? Of gaan hulle met ‘n profetiese stem vorendag kom wat die toekoms vir almal gaan oopmaak. Gaan hulle dit regkry om hulle lidmatewat nog ryk is, maar bang is, veilig te laat voel? En terselfdertyd met ‘n pastorale hart planne maak vir die armes? Het die NGKerk ‘n plan om met hulle lidmate wat nuut-arm is te werk? Die nuwe huisloses wat in ou karavane langs plattelandse strate in wit townships saamtrek. Of een van ses Wendy Houses huur in ‘n vorige buurman se agterplaas. Bearbei die NGKerk hierdie lidmate? Of is dit net die bekeerkerke wat daar inbeweeg?

Ek praat toe so met ‘n paar mense en vra hulle wat verwag hulle van die sinode. Een sê hy soek ‘n “Sinode van Hoop” wat brûe sal bou na denkendes, gays en anderskleuriges. Dat die toekoms ons tog begin wink vir almal wat op die oomblik aan die kerk wanhoop. ‘n Ander sê hy soek ‘n soepel, hervormingsgesinde, versiende sinode wat verstaan dat ‘n mens dalk so aan Bybelstekste kan vashou, dat jy die evangelie verloor. Dat ‘n kerk so aan sy “behoud” kan vashou, dat hy op die ou end alles verloor. En iemand anders sê nog sy soek ‘n kerk wat besef hy werk met mense en nie met issues nie.

En dit bring ons by die keuse vir ‘n moderator uit. Wie gaan die Algemene Sinode as moderator kies? Ek hoop iemand wat die kerk kan lei na ‘n community of care, wat mense insluit en nie uitsluit nie. Iemand wat weet hoe om sy hande vuil te maak met die nood van ander. Iemand wat die kerk ‘n veilige plek sal maak vir die geestelike behoeftes van mense, en dit sluit jongmense in. ‘n Bemagtiger, wat nie alles self wil doen nie, maar deure sal oopmaak sodat lidmate regtig ‘n goeie verskil in die samelewing sal maak.

Die drie groot issues op die sinode is natuurlik of gays in die kerk kan trou en dominees wees, of die NGKerk met bruines en swartes onder leiding van Belhar moet saamsmelt, en die kerk demone uit mense mag/moet uitdryf.

So, ek veronderstel die ergste wat die NGKerk kan tref in terme van ‘n moderator, is dat Piet Strauss gekies sal word, dat hy die kerkvereniging soos die Voortrekkers sal lei, en dat hy demone uit gays uit sal probeer dryf.

Maar wie weet, miskien sal Strauss, en die ander De la Reys wat aanspraak maak op die moderatorskap, dit juis regkry om die konserwatiewes in die kerk oor te haal om te verenig. Op ‘n waardige manier vir almal.

Maar, aan die ander kant hoop ‘n mens dat hierdie konserwatiewe groep in die kerk wat altyd so gelukkig gehou moet word, nie meer as 26% is nie. Anders is die kerk in elk geval in sy maai. En dat die sinode sal waag om hulle eerder te verloor, as om die reg te verloor om ‘n genesende kerk in ‘n stukkende samelewing te wees.

Eintlik soek ‘n mens ‘n moderator, en ‘n sinode, wat nie net desperaat probeer om al sy lidmate bymekaar te hou en so bloedloos as moontlik ‘n slap handjie uit te reik na die bruin en swart susterkerke nie. ‘n Mens soek na ‘n NGKerk wat verder as net sy binnekring uitbeweeg, en uitreik na die grote Christendom om hom. Dis tog ‘n bekende feit dat die Christendom nou afbeweeg het na die suide en sy taltykste en heelste gesig in die suidelike halfrond wys. Hier in Suid-Afrika staan die NGKerk te midde van die sterkste manifestasie van die Christendom wêreldwyd. Die swaartepunt van kerkwees is hier om ons! Kan die NGKerk nie maar begin wortel skiet in ‘n werklike suidelike kultuur van kerk- en menswees nie? Kan hy nie maar breek uit sy self-isolasie en brûe bou na al die vorme van kerkwees om hom nie?

So, dan, het hierdie sinode ‘n kans om die NGKerk deel te maak van die heilsgeskiedenis – of die onheilsgeskiedenis. Kom ons hoop maar dat hulle vir die heil sal kies. En sal uitbreek na die gebrokenes, die “anders”denkendes, na hulle wat aanbid binne ander spiritualiteite en met ander velkleure.

En ag ja, vergeet tog die vroue nie – veral nie as dit by leierskap kom nie. Iewers is daar seker tog ‘n Zille of ‘n Botha in die NGKerk ook.

En wie weet, dan sal die kerk regtig nie meer broos hoef te wees nie.

As dit jou lot is om onder te gaan, is dit een ding; as dit jou skuld is, iets anders.